Gepubliseer op Landbou.com op 17 November 2025
Artikel: Marisa Beeton
Vir die Vorster-broers wat by Elliot in die Oos-Kaap boer, is uithou en aanhou ononderhandelbaar, maar hulle hou van mieliebasters wat kan vergoed as dinge nie volgens plan verloop op hul plaas nie.
Bennie en Theuns Vorster van die plaas Langlaagte buite Elliot in die Oos-Kaap weet hoe om vas te byt en deur te druk. Hulle het dit by hul pa, Johan, geleer.
"Ons is die tweede geslag op die plaas. Die man by wie my pa die plaas gekoop het, het dit verkoop omdat hy onder veediefstal deurgeloop het. Toe ek 10 jaar oud was, was hier nog vier bure, maar almal is weg weens veediefstal en moeilike tye. Hulle het by my pa ook sowat 250 tot 300 skape per jaar gesteel, maar hy het vasgebyt," vertel Bennie, wat saam met Theuns BT Boerdery bedryf.
"My pa het geglo jy hou jou vee, want as jy net op jou gewasoeste staatmaak, gaan jy nie lank boer nie."
Vandag bestuur Theuns die kommersiële Merino-en Beefmaster-kudde, en Bennie behartig die saaiboerdery, wat uit mielies, sojabone, aartappels en weidingsgewasse bestaan.
"Ons is baie dankbaar vir my pa. As hy nie deurgedruk het nie, sou ons ons eie potjie moes gaan krap. Baie ander seuns van ons geslag het nie grond gehad om na terug te keer nie. Ons is bevoorreg en het baie om voor dankbaar te wees," sê Bennie.
Theuns sê hul pa het hulle ook geleer om hul naam skoon te hou: "Betaal wanneer jy moet betaal. As jy nie kan nie, gaan reël vooraf met die mense, maar moenie jou naam deur die modder sleep nie."
Dit is waarom Eugène Marais, Pannar se verteenwoordiger in die streek, daarvan hou om met die Vorster-broers saam te werk.
"Jy weet altyd waar jy met hulle staan. Hulle praat reguit. Hulle gaan nie vir jou een ding vertel en dan hoor jy iewers iets anders nie."
Eugène is weer die rede waarom Bennie sê hulle is "Pannar se manne".
"Eugène het in 2016 hier aangekom en sedertdien doen ons alles deur hom. Hy plant proewe in die omgewing. Ons kry data van hom af en kan dus ingeligte besluite neem. Hy lewer uitstekende diens. As ons na hom toe gaan en sê iets is nie reg nie, help hy ons dadelik."
Bennie plant die geelmieliebasters PAN 4R-528R en PAN 4P-928PW op droëland, hoewel dit eintlik besproeiingstipe basters is.
"Die twee basters is van dieselfde genetiese platform en albei het goeie kompensasievermoë. Wanneer jy dus 'n ry oorslaan, maak die plant 'n groter eerste kop en selfs 'n tweede koppie," sê Eugène. "In hierdie hoëpotensiaal-gebied met hoë reënval plant die boere teen 'n hoë stand. Meerkoppigheid is nie noodwendig belangrik nie, maar kompensasievermoë is wel."
Volgens Bennie kry hulle gemiddeld 800-850 mm reën per jaar en plant teen 'n stand van sowat 55 000/ha. Hul vyfjaar-gemiddelde vir mielies is ongeveer 9 t/ha. Vanjaar was 'n uitsonderlike goeie jaar vir mielies en die gemiddelde oes was 10,8 t/ha. Vir grondbewerking bewei die beeste eers die lande, waarna die Vorsters 'n Vibroflex-grondbewerker gebruik om die grondkors op te breek.
Hulle gebruik daarna 'n Kverneland CLG om 300 mm diep los te maak, waarna die lande tot planttyd lê.
"Met planttyd loop die Vibroflex voor die planter. Hy lig die klam grond op waarin ons plant. Dit help met die egalige ontkieming van die mielies."
Die Vorsters het onlangs weer begin om mielies met sojabone af te wissel en het die afgelope seisoen vir die eerste keer PAN 1515R geplant.
"Ons het tien jaar gelede laas sojabone geplant en opgehou omdat ons nie 'n goeie opbrengs kon behaal nie. Ons het maar 1,1 - 1,2t/ha gestroop. Ons het wisselbou met hawer toegepas, maar dit is nie goed genoeg nie en ons kon sien die grond raak moeg vir die mielies."
"Sojaboonkultivars het baie verbeter en die som begin vir ons klop om dit weer te plant. Die opbrengs is aansienlik beter, en ons het vanjaar 2,8 t/ha gestroop - 1,6 t/ha meer as voorheen."